Gistermiddag
deur isabelk
Die deure staan oop en die hitte van die dag beur oral in. Ek weet die huis se
koelte sal langer hou as ek die deure toe maak teen die laat middag hitte,
maar ek kan die versoeking nie weerstaan nie. Om net oor te gee.
Om oor te gee aan die vryheid van sinnelose onlogiese gedrag. Om die koelte
spaarsamig opgebou in die huis te mors op 'n Hoëveld middag.
Ek sit Laurika se somermiddag-wintersaand stem in die CD speler. Teen my
gewete in lê my vinger lank op die knoppie. Haar nuutste CD weerklink en
elke holte van die koel huis word vol klank.
Ag ek is seker die bure hou ook van haar…
In die oond bak 'n kalbeljou in sampioen-swartpeper-pietersielie sous terwyl
die reuk van Basmati rys soos 'n wulpse wolkie oor die effense vis reuk hang.
Ek haal die Gin uit die kas en soek in die spens rond. Niks.
Miskien in die yskas. Die yskas se sintetiese koelte slaan teen my kaal arms
en bene vas. Oor die halfgesnyde blaarslaai kop, tussen die bloedrooi
Woolworths tamaties deur soek my oë gretig na 'n geel blikkie. Hoopvol.
Die tonic is op. Agter die Vetvrye Aarbei Jogurt vind ek 'n blikkie Diet
Suurlemoen Schweppes. Dit sal doen.
Twee doppies vodka in my glas. Die koue lug wasem by die vrieshokkie uit as
ek ys soek. Baie ys. Die ys breek in duisende splinters. Hoekom nou weer?
Twee dik snye suurlemoen bo-op.
Ek wonder of die belowende suurlemoenbloeisels aan my boompie hierdie
jaar gaan vrugte dra.
Die borreltjies fluister hul danspassies in die glas en ek voel die sagte sproei
op my hand as ek kaalvoet deur die huis loop. Nader aan die Laurika se
winkende stem. Onder my voete is die teëls koud. Nooi my uit om op die koel
trap te sit en die wêreld te bekyk.
Die son het net-net begin ondergaan en die kleur van die lug is sag. Asof alles
deur die sagste van lense na my toe gestuur word.
Skielik is alles in my gevul met 'n ongelooflike vrede en rustigheid. Gekoester
en vry. 'n Ewigheids gevoel wat grens aan geestelike gewigloosheid.
En ek wens ek kon dit neerskryf.
Die reuk van suurlemoen en jasmyn hang in die lug. Die reuk van jasmyn wat
my altyd amper onkant vang met daardie sagte soetheid. Asof iemand jou
dringend op jou skouer tik en jy omkyk selfs al weet jy wat kom.
Die verlepte tuin smeek vir water. Ek skuif die tuinslang met groot bewegings
rond sodat my voete en bene vol rooi modder spat. Ek spuit gate in die
beddings en kyk onkruid mis wat al lankal uitgetrek moes gewees het.
Op die muur sit die twee katte. Die gemmer kat se rooi-goue pels glim in die
sagte lig en ek hoop dis die duur veearts kos wat dit so mooi laat blink. Hulle
sit met 'n nonchalante houding wat net 'n kat kan vervolmaak. Asof die muur
'n oop wye vlakte is, met sagte dons kussings om op te lê. Hul oë geskreef
teen die lig en die hitte van die laatmiddag met net 'n effense roering van die
ore in my rigting as ek die stilte ongemanierd verbreek.
Half oop oë wat knip…knip…knip…
Die wande van die glas is klam. Die hitte ding mee om ewewig te bereik
tussen die omgewing en die yskoue vloeistof in die glas.
Net so onverwags soos dit begin het verander die atmosfeer weer, die
mikrogolf se klokkie skree en die laaste arbeiders op die bouery langsaan klim
raserig op 'n bakkie waarvan die padwaardigheids sertifikaat al 'n paar keer
vervals moes gewees het.
In die laaste diep sug van die middag kom die katte aangedraf vir kos terwyl
Laurika met Valiant Swart se woorde, smag na 'n sonvanger.
En ek weet: Dit was 'n "oomblik".
|