|
omsingel deur
chemiese versterking
bly ek regop
moeg
gemergel deur
kommersiële depressie
geteister geleef
om 'n daaglikse stukkie
droë brood
te wurg sonder koffie
of 'n koppie rooibos tee
moeg om te verdwyn
tussen die tydloses
hopeloses die genadeloses
goddeloos
moedeloos geworstel
om ten minste depressie
uniek te beoefen
terwyl dit wat ek sê en doen
al dowwer klink
dieper wegsink in die
sentrifuge van niks
kolkend meegesleur
sonder God sonder meer
sonder minder net
niks
isabelkotzé
dit reën
op my stowwerige winter stoep
oor my vaal gerypte gras
tussen die sluimerende roosknoppe
en teen die dowwe venters van my huis
die aanslag van water en grond
wentel op in my
seisoengekleurde siel
met die reuk wat
wulpse draaie
in my geheue se
gange maak
want miskien
is daar selfs in die winter
'n bietjie somer te vind
hiberneer
een oggend
nog skaars vroeg herfs
staan ek
koudbloedig op
oornag
het die winter
sel en been
vervreem
terwyl die bloekoms
slierte
bas vervel
en ek
‘n sonkol in die
skadus bly soek
to infinity and beyond
en toe kon ek
my kop
in die bakhand
van die sekelmaan
rus
met jou woorde
wat plek-plek
vir my wentelbane
in die duisternis oop kloof
want jy loop
en soek
tussen planete
en haal ster-splinters
uit my onkundige voetsole uit
herfs
as die seisoen
sku
op die winter se lees
vorm kry
word my gedagtes
vervierkant
en pak my hart die
rondings van
lang somersdae
in die lente
se bol-tuin weg

ingrid
vanmiddag weer
kloon ek
pyn op jou graf
kweek ek
seewier oor jou lyk
en soek ek
vrugteloos na verwyt

writer's block
waar my gedagtes
raak
plak clichés
aan my hoopvolle
vingers vas
oral waar my potlood
wei
versmoor my woorde
in die stroperigheid
van plagiaat

gedig
dit raak en tref
en vra
skop slaan streel
en gebeur
in my kop

Die pyn was eers stom:
Net bang dier-oë
wat knip –
…knip…
Sonder die geluide van
huil, wou die pyn
eers tot volle wasdom kom
om, volwaardig,
(vanuit die bang-seer kern)
verskeurd te kan vra:
Waarom?

jy sou my oase kon wees
as my siel weer
woestyn word;
die skadu waarin ek kon rus
as my boom van hoop
verdor het;
jy wat met sagte vlinder-vingers
my hart kan vertroos as hy
vertrap is,
vir jóú sal ek
my kaalvoet-liefde
kan gee

Hart-en-Siel
ek vlek my hart oop
voor jou
en genadiglik is jy
Stil
ek skil my siel oop
voor jou
en wonderbaarlik is jy
Stil
ek pak hart-en-siel uit
vir jou
en vanselfsprekend is jy
Stil
|