HOOFBLAD ORIGAMI VERSIES STORIES SKAKELS WIE'S EK?

Stuur gerus I-myl

      'n Webbundel - Volume 2       Volume 1       Volume 3


Rympie Navigasie: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11




omsingel deur
chemiese versterking
bly ek regop
moeg
gemergel deur
kommersiële depressie
geteister geleef
om 'n daaglikse stukkie
droë brood
te wurg sonder koffie
of 'n koppie rooibos tee
moeg om te verdwyn
tussen die tydloses
hopeloses die genadeloses
goddeloos
moedeloos geworstel
om ten minste depressie
uniek te beoefen
terwyl dit wat ek sê en doen
al dowwer klink
dieper wegsink in die
sentrifuge van niks
kolkend meegesleur
sonder God sonder meer
sonder minder net
niks

isabelkotzé




dit reën
op my stowwerige winter stoep
oor my vaal gerypte gras
tussen die sluimerende roosknoppe
en teen die dowwe venters van my huis

die aanslag van water en grond
wentel op in my
seisoengekleurde siel
met die reuk wat
wulpse draaie
in my geheue se
gange maak

want miskien
is daar selfs in die winter
'n bietjie somer te vind






hiberneer

een oggend
nog skaars vroeg herfs
staan ek
koudbloedig op

oornag
het die winter
sel en been
vervreem

terwyl die bloekoms
slierte
bas vervel
en ek
‘n sonkol in die
skadus bly soek






to infinity and beyond

en toe kon ek
my kop
in die bakhand
van die sekelmaan
rus

met jou woorde
wat plek-plek
vir my wentelbane
in die duisternis oop kloof
want jy loop
en soek
tussen planete
en haal ster-splinters
uit my onkundige voetsole uit






herfs

as die seisoen
sku
op die winter se lees
vorm kry
word my gedagtes
vervierkant

en pak my hart die
rondings van
lang somersdae
in die lente
se bol-tuin weg






ingrid

vanmiddag weer

kloon ek
pyn op jou graf

kweek ek
seewier oor jou lyk

en soek ek
vrugteloos na verwyt







writer's block

waar my gedagtes
raak
plak clichés
aan my hoopvolle
vingers vas

oral waar my potlood
wei
versmoor my woorde
in die stroperigheid
van plagiaat







gedig

dit raak en tref
en vra
skop slaan streel
en gebeur

in my kop






Die pyn was eers stom:
Net bang dier-oë
wat knip –
…knip…
Sonder die geluide van
huil, wou die pyn
eers tot volle wasdom kom
om, volwaardig,
(vanuit die bang-seer kern)
verskeurd te kan vra:
Waarom?






jy sou my oase kon wees
as my siel weer
woestyn word;
die skadu waarin ek kon rus
as my boom van hoop
verdor het;
jy wat met sagte vlinder-vingers
my hart kan vertroos as hy
vertrap is,
vir jóú sal ek
my kaalvoet-liefde
kan gee







Hart-en-Siel

ek vlek my hart oop
voor jou
en genadiglik is jy
Stil

ek skil my siel oop
voor jou
en wonderbaarlik is jy
Stil

ek pak hart-en-siel uit vir jou
en vanselfsprekend is jy
Stil