HOOFBLAD ORIGAMI VERSIES STORIES SKAKELS WIE'S EK?

Stuur gerus I-myl


      'n Webbundel - Volume 3       Volume 1       Volume 2


Rympie Navigasie: 1 2 3 4 5



ek wil vir jou
doudruppels tap
in my blomtuin
soggens

in die skemer tyd
voor dagbreek
druppels versamel
in 'n klip kelk
en dit langs jou
slapende lyf
neersit sodat
as jy en son
ontwaak jy jou
dors kan les
met dou wat by jou
slaapverkreukelde
mondhoeke af gly

glinsterende liefkosinkies







bio-logiese tyd

in die logiese
intellektuele greep
van die moderne besluit
skuil iewers
irrasioneel primitief
die biologie-van-tyd

stiptelik
met elke maan
word my aftelrym
onkeerbaar herhalend
beskryf
in 'n bloedige
voetspoor
van verwyt





die wind
het in die leegtes
onder my vel
ingewaai
en die anti-tese
(paradoks)
van my bestaan
ontbloot





bring vir my
'n handvol nag-asem
opgevang in die stil
na-nag ure van 'n kind
se droomverlore slaap

skep vir my
uit die glinstering
waar onskuld nog
ongeskonde vonkel

pluk vir my
klok-lag bessies
wat ryp word op
'n onbeperkte tong

pluk vir my
skep vir my
bring vir my
kindwees







vonds

skroei die koue uit my hart
met jou oë
waarin skuil-skuil
drome lê wat
weet

waar ek
onbeperk reserwes
vind waaruit jy
ongebreideld
jouself vir my
kom skink